Egipte en Jordanië


Elkeen wat in Afrika woon behoort Egipte te besoek want hierdie land is die unieke erfenis van ons almal. Die ryke geskiedenis van hierdie Nyl-beskawing maak ons trots om Afrikane te wees. Langs die Nyl-rivier het een van die wêreld se eerste beskawings ontstaan, ook die een wat die langste bestaan het, ‘n hele drie duisend jaar! Ou Egipte bewys dat mense selfs in die droogste woestyn slegs een ‘geskenk’ (die Nyl) en baie vernuf en deursettingsvermoë hoef te hê om ‘n unieke kultuur te ontwikkel. Die Egipte van die farao’s het besondere kuns, ‘n eie skrif, eie godsdiens en gode, ‘n ryke mitologie, landbou, die wetenskappe van wiskunde, sterrekunde en medisyne opgelewer. Hierdie beskawing het van die heel verstommendste bouwerke gelewer, soos die sfinks en die tempels by Karnak, Abu Simbel, op die Philae eiland, by Kom Ombo, die tempel van die vroulike farao Hatshepsut en nog vele meer. Ook bly die piramides misterieus en fassinerend en is die enigste een van die sewe wonders van die antieke wêreld wat nog bestaan.

     

Verhale uit Egipte is deel van elkeen se opvoeding wat die Ou Testament lees. Dit is werklik opwindend om by Sharm El Sheikh aan die Rooi See te snorkel en te besef dat Moses ook die waters aanskou het. ‘n Mens voel deel van die geskiedenis om Sinai berg te klim om die son te sien opkom of in die woestyn by bedoeïene aandete te nuttig na ‘n kameelrit. ‘n Vaart op die Nyl bly onvergeetlik, soos dit sekerlik ook was vir Julius Caesar, Cleopatra en Napoleon! Hier staan die tyd stil en word elke reisiger oorweldig deur die misterie van hierdie land. Maar Egipte is nie net geskiedenis nie. Daar is ook moderne Egipte. En dit is ook ‘n eiesoortige ervaring…..
(Saamgestel deur Carina Malan)

Jordanië


Jordanië is 'n baie besondere plek. Dit is geleë in die Midde Ooste en grens aan Sirië, Irak, Saudi Arabië en Israel en dus sou mens konflik en onrus verwag. En tog is dit seker die mees gematige en vreedsame Arabiese land. Dit is te danke aan die temperament van die mense en die insig van die koningshuis onder koning Hussein en sy opvolger koning Abdullah 11. Hulle kry dit reg om vredemakers te wees, om beide ‘n heenkome vir die Palestyne te bied en goeie betrekkinge met Israel te handhaaf. Dus ‘n baie veilige land om te besoek, ‘n verdraagsame land wat reisigers verwelkom.

Die geskiedenis van die ‘land oorkant die Jordaan’ of Transjordanië is so oud soos die Bybel self. Dit is die land van die Ammoniete, Moabiete, Midianiete en Edomiete, berg Nebo vanwaar Moses die beloofde land gesien en Bethani waar Johannes die Doper vir Christus in die Jordaan gedoop het. Hierdie land is nog altyd deur vreemde magte beset, deur magte soos die farao’s, Assiriërs, Babilonieërs, Perse, Grieke, Nabateërs, Romeine ensovoorts tot by die Ottomane en die Britte! Vandag is die onafhanklike Jordane trots op hul lang en veelbewoë geskiedenis en is daar talle interessante plekke om te besoek, plekke soos Jerash en Madaba met sy mosaïeke en natuurlik Petra. Petra is ‘n stad onwerklik in sy uniekheid, ‘n plek waarvan die realiteit nog meer bevredig as enige droom. Geen wonder nie dat dit gekies is as een van die huidige sewe wonders van wêreld!

Jordanië is egter veel meer as geskiedenis. Die suidelike woestyngebied vertoon die ongelooflikste landskappe, plekke soos Wadi Rum en Wadi Mujib. Die hawestad Aqaba op die 28km kusstrook wat die land se enigste is, bied van die wêreld se beste koraalriwwe en duikplekke. Ook is die natuurskoon aan die Dooie See en langs die Jordaan asemrowend. Die hoofstad Amman het ‘n besondere boustyl aangepas vir uiterstes in klimaat en byna geen water nie en is tog aantreklik..

Hierdie land is beslis ‘n besoek werd omdat mens met ongewone ervarings en nuwe insigte beloon word.
(Saamgestel deur Carina Malan)