Kenia


Wanneer ek na Mozart se Klarinet Concerto in A luister, dink ek onwillekeurig aan Karen Blixen se “Out of Africa”, die Groot Skeurvallei, die grasvelde van Kenia, n koloniale jenewer wanneer die son sak en die wittand glimlagte van n trotse nasie. Soveel skrywers het al geskryf oor Kenia, sy landskap en sy mense, maar dit is net wanneer jy self in hierdie land is, wat jy regtig die skoonheid verstaan.

Nairobi is n boomryke stad met pragtige ou koloniale klipgeboue en is n goeie plek om n toer na Kenia te begin of eindig. Die bedrywige stad met sy groot groen tuine laat mens meteens rustig, tog heeltemal bewus dat jy nou werklik in Oos Afrika is.

So paar uur se ry buite Nairobi is Nakuru Nasionale Park. Hierdie kleiner park is in 1961 gestig om die bedreigde swart renoster te beskerm. In die middel van die park is Nakuru Meer, een van die Skeurvallei se vlak mere. Hier dans een pienk massa flaminke rustig in die meer se waters, totdat n hyena besluit om n flamink te nuttig. Dan vlieg die statige voels laag oor die meer na n rustiger staanplek. Mens kan ure langs die meer spandeer en jou verkyk aan buffels, renosters en kameelperde. Hier en ook in die Maasai Mara is n groot verskeidenheid wilde diere, maar die Maasai Mara is meer bekend vir die Grumeti en Mara Riviere waardeur miljoene wildebeeste jaarliks trek.

Vir eeue al pas miljoene wildebeeste en sebras weidingbestuur toe. In die Serengeti en Maasai Mara weet die troppe instinktief dat Kenia se lang reenseisoen van Maart to Mei is. Hulle wei dan rustig in die Serengeti (Tanzanie), totdat die kos daar op is. Teen Julie is hulle in die Maasai Mara(Kenia) om die lang gras, wat intussen gegroei het, daar te geniet. Terwyl hulle hier wei, spring hulle oor die twee riviere om by meer weiding te kom. Hierdie kruising is voorwaar n skouspel. Sommige wil graag sien hoe die krokodille jag maak op die massas, terwyl die meer sensitiewe aanskouer die diere aanmoedig en juig wanneer hulle veilig aan die ander kant is.

Kenia praat met mens. Die land en sy mense los jou dankbaar. Die landskap en dierelewe is n Meesterstuk. Daar sal altyd net een Kenia wees, maar skrywers sal vir altyd gryp na n pen, met die hoop dat hulle die land op papier kan vasvang.


Artikel deur Elizabeth van Niekerk