Kroasië


Waarom toer in Kroasië? deur Kobus Meij - 25 Julie 2008

Kroasië is ʼn fassinerende land. Sy halfbekende rol in die moderne geskiedenis, sy ou, ou onstuimige geskiedenis, die goedbewaarde oorblyfsels van vorige heersers en beskawings, sy wonderlike natuurskoon en baie vriendelike mense is al genoeg rede om opgewonde te raak ook die land.

Die land het behoorlik van hande verwissel. Die Kelte, Romeine, Bisantyne, Venisiers, Franse, Oostenrykers, Turke en Hongare het hulle kleim hier afgesteek. Elkeen het iets van hulle kultuur nagelaat en dit bied aan die toeris ʼn mengsel van kulture vanaf Kroasies, Italiaans, Duits, Grieks, Slawies tot by Turks. Daar is ou stede soos Rovinj (met die St Euphemia katedraal), Pula (met die uitsonderlike Romeinse amfiteater), Zadar en Dubrovnik (met die ou stad, die Dominikaanse kerk en klooster en die indrukwekkende Rektor se paleis). Die argitektoniese skatte getuig van die lang en soms bloedige geskiedenis en is mooi bewaar en word goed in stand gehou. ʼn Mens kan ure in die kronkelstraatjies wandel en jou verlustig in die eeue oue omgewing. Die Kroate is trots op hulle geskiedenis wat strek uit die sagte kommunisme van die gewese Joegoslawië tot ʼn moderne kapitalisties georiënteerde vrye demokrasie. Tekens van die onlangse lang vryheidstryd is hier en daar nog sigbaar. Hulle het maar eers in 1998 hulle volle onafhanklikheid gekry.

Dit is ʼn land met asemrowende natuurskoon wat in alle smake voorsien. Daar is die ewig kronkelende kuslyn wat soms byna Noorweegs lyk en die letterlik duisende (meer as 1200) eilande. Vir die seiljagliefhebber bied dit alles – van die mooiste see tot talle skilderagtige hawens. Toeriste kan die land verken vanuit die see en die see verken vanaf die land. Om elke draai is daar nuwe natuur verrassings en daar is verskeie UNESCO-bewaargebiede soos die pragtige binnelandse mere van Plitvice met sy kristal blou helder watervalle en sagte groen woude. ʼn Bootvaart op die mere bied uitsigte wat geen woorde kan beskryf nie. Die witgrys bergreeks skei die binneland van die see en bied pragtige natuurtonele en asemrowende uitsigte op die see en eilande.

Die eilande soos Hvar en Korčula en andere bied ʼn bekoring wat vergelykbaar en selfs beter is as die Griekse eilande. Ten minste is dit nie so oorbevolk van toeriste nie en kan mens die skoon seelug inasem en in die warm see swem en ontspan. Die eilande het ook besondere ou geboue soos paleise en kerke wat getuig van die lang geskiedenis van deurgang deur die land tussen die ooste en weste. Op Korčula is byvoorbeeld die oudste Rooms Katolieke kerk in die wêreld.
Die toerisme infrastruktuur soos hoof en sekondêre paaie, hotelle, gastehuise ens is baie goed ontwikkel en daar is min waaroor gekla kan word. Kostes is nog redelik en in elk geval heelwat goedkoper as in Europa. Die cuisine bestaan uit ʼn mengsel van kossoorte wat uit die ooste en weste kom. Die basis van die kossoorte is Slawies wat beïnvloed is deur voedsel van die omliggende lande soos Italië (met pasta en vis), Hongarye (met stowe geregte) en Oostenryk (met strudels).

Kroasië bied aan die toeris ʼn ryk geskiedenis, kultuur, argitektuur en uitsonderlike natuur teen billike pryse – waarna meer soek mens as jy gaan toer?