 Met Seagull na Rusland
Ons roete is ‘n uitstekende bekendstelling aan ‘n land wat tot onlangs nog ‘n taamlik onbekende bestemming vir Suid-Afrikaanse toeriste was. Ons vlieg (gewoonlik via Parys) na Moskou, die eeu-oue sentrum van Russiese mag, kultuur en rykdom. Daar maak ons onsself tuis op ‘n luukse boot wat vir die volgende 2 weke ons tuiste gaan wees. Ons besoek die Kremlin en die Skatkamer met al die skate wat deur die eeue deur die Russiese tsare versamel is. Ons maak ‘n toer deur die ou en nuwe dele van die reuse stad Moskou. ‘n Besoek van die Bolshoi teater of die beroemde Moskou’se sirkus is opsionele moontlikhede.
Op die hele toer word ons vergesel deur ons eie Suid-Afrikaanse toerleier wat Russies magtig is. Daarbenewens het ons oral uitstekende plaaslike gidse wat alles in Engels verduidelik. Hulle is gewoonlik ook bereid om met ons oor die huidige politik, die ekonomie en die goeie en nie so goeie dinge in die moderne Rusland te gesels.
Na 3 dae begin ons reis op die kanale, riviere, en mere van Nord-oos Rusland. Ons boot het plek vir ongeveer 250 passasiers en ‘n bemanning van 100. Daar is alles wat mens verwag van ‘n bootvaart, insluitende 3 lekker etes per dag, kuierkroeë, musiek, Russies lesse en ander vermaaklikheid.
 Langs die pad besoek ons eers Oeglitj. Daar is Ivan IV, die Verskriklike, se seun vermoor en op die plek staan nou ‘n ou katedraal. In Oeglitj kan mens ook goed en goedkoop die eg Russiese aandenkings koop. Die volgende dae besoek ons die ou klooster van St Kyrill en die Kisji-eiland met sy pragtige houtkerke en –geboue.
Na ongeveer ‘n week bereik ons dan St Peterburg. Hierdie stad is die Russiese venster na die Weste en is 300 jaar oud. Hier word ons verras deur die geweldige kunsskatte in die Hermitage, die pragtige Paleise van die tsare en pragtige geboue en bruë oor baie kanale wat St Peterburg die bynaam ”Venesië van die Noorde” gegee het. Een van die grootste belewenisse so na aan die noordelike poolsirkel is die “wit nagte. In Junie of Julie, wanneer ons gewoonlik hierdie reis maak, skyn die son amper die hele nag lank. Dit sak so kort voor middernag en dan bly dit skemer tot die son omtrent 2 uur later weer opkom.
Uiteindelik vlieg ons terug “From Russia with love.” Wat ‘n interessante en unieke land! 
(saamgestel deur Werner Modinger)
|