|

Onderhoud oor toere na Turkye met
Ds Malan van Rhyn
Jy het nou al vyf toere in Turkye saam met Seagull Toere onderneem. Hoekom juis Turkye?
 Turkye is ʼn Bybelland. Die berg Ararat, waar Noag met sy ark geland het is daar. Haran, waar Abraham eers gewoon het voordat hy na die beloofde land getrek het, is daar. Omtrent drie-kwart van die Nuwe Testament het daar afgespeel. Tarsus, waar Paulus gebore is, is in Turkye. Paulus se sendingreise, waarvan ons in Handelinge lees, het grootliks daar plaasgevind. Die sewe gemeentes van Openbaring was daar en maak ʼn groot deel van die toer uit. Die Galasiërs, die Efesiërs, die Kolossense en die mense aan wie Petrus sy briewe geskryf het, het almal daar gewoon. Antiochië, waar die gelowiges die eerste keer Christene genoem is, is daar. Johannes, Paulus, Filemon, Timoteus, is almal mense wat in Turkye was.
Waar presies lê Turkye?
Turkye grens aan die Noord-Oostelike deel van die Middellandse see en is op die kontinent Asië geleë. ʼn Deeltjie van Turkye val in Europa. Dit grens aan die Egeïese see, waar die eiland Patmos is waar Johannes die Openbaring van Jesus Christus ontvang het. Die Swart See lê aan die Noorde. Die land lê dus Noord-Wes van Israel en grens onder andere aan Griekeland, Iran, Irak en Armenië. Dit sluit die gebiede in wat die Bybel Klein-Asië noem en gebiede soos Pontus, Galasië en Kappadosië. Dit is ʼn groterige land, ongeveer twee-derdes die grootte van Suid-Afrika, met pragtige berge en mere en riviere. Baie mense dink dit is ʼn woestynland, maar alles behalwe.
Waarop konsentreer julle met die toere?
Ons besoek die Sewe Gemeentes waarvan ons in Openbaring 2 en 3 lees, wat Efese, Pergamum, Laodisea, Smirna, Sardis en Filadelfia insluit. Ons besoek ook die gebied waar die Galasiërs gewoon het en Kappadosië. Dit is dus eintlik ʼn Bybeltoer en eintlik meer ʼn geestelike ervaring as ʼn gewone toer. Jy kan nie vir iemand beskryf hoe dit voel om byvoorbeeld in Efese se marmer hoofstraat af te stap en te weet: Johannes en Paulus het ook hier geloop nie. Dit is aangrypend om by Johannes se graf te staan, of om by Laodisea te kom en te weet: Jesus het vir hierdie mense gesê: “Omdat julle nie warm is nie en ook nie koud nie, maar lou, daarom gaan Ek julle uit my mond uitspoeg!”
Istanbul is ook `n belewenis!
Wat beteken so ʼn toer vir ʼn gelowige?
DDit gee jou geweldig insig in die Nuwe Testament. Ek is nou al 21 jaar ʼn predikant, maar hierdie toer het vir my dinge oopgemaak wat ek nooit geweet het nie. Al die plekname soos Efese en Kolosse en Galasië is nou nie meer net name nie, maar prentjies in my kop. As ek nou byvoorbeeld uit die Brief aan die Efesiërs of uit Openbaring lees of preek, is dit vir my baie meer werklik, want ek was daar en ek weet hoe dit daar lyk. ʼn Mens lees die Bybel nou met nuwe oë.
So ‘n toer is ook ʼn baie lekker vakansie. Turkye is ʼn wonderlike land om in vakansie te hou en te ontspan en ons het baie sports ook op so ʼn toer.

Behalwe die Bybelse ervaring, wat ervaar ʼn mens nog daar?
Dit is deur en deur ook ʼn kulturele- en ʼn kunservaring. In die museums daar sien ʼn mens goed wat duisende jare oud is en byvoorbeeld uit die tyd van Abraham dateer. Turkye is ook bekend vir sy edelstene, symatte, juweliersware, pottebakkery en pragtige leerbaadjies.
Hoekom het jy al 5 jou toere na Turkye saam met Seagull Toere gedoen?
Benewens die vyf toere na Turkye het ek ook al drie Afrika toere en een Griekeland toer saam met hulle gedoen. Seagull is uiters professioneel en jy kan net die beste verwag wat gidse, vervoer, verblyf, etes en diens aan betref!
|
 |